<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Winterwonders...

 
News : 29 May 2014 147 Viewed By Carina Stander 0

Herfs in die Bosveld is nou in sy laaste snikke. Die bergseringe strooi vir oulaas geel en rooi blare en die middagson gooi kantgordyn patrone teen die mure. Amberlig. Straks sal die winter hier wees met pers bougainvillea wat opklim teen die mopanies of maroelabome. Skelpienk bougainvillea sal oprank in die apiesdorings. Die oranje bougainvillea sal die kleikleur van plaashuise herhaal. In die klipperige veld sal die aalwyne geel vlamme maak.
Op winteroggende word die beeste gemelk met wasemwolke voor die mond. Asemwarm. Die Isuzu skrik ruk-ruk wakker. Mens kan nartjies in die boord gaan pluk - die verrassende sproeireën van die skil teen die gesig – en lemoene-halwes word langs die skool se netbalbaan en rugbyveld uitgedeel. Deur die boomskelette word die wilde diere nou beter gewaar – vlakvark, koedoe - en sommer gou is dit tyd vir cabanossi en biltong. Saans word daar kruisbeen gekuier voor die kaggel, gesmul aan tuisgebakte brood en sop of vlakos.
Hier in die Tsitsikamma waar ek woon, waai die bergwind soms in die winter, dan is die dae louwarm. Maar so een keer elke winter sneeu dit op die hoogste bergpiek. Dan kruip ek onder my lappieskombers in - mus op die kop, muse aan my sy. Maar die gebibber en beef sit in my beendere. Dit is veels te koud vir bergfiets of braai en my gevriesde vingers weier botweg om te sms of e-pos.
Agt uur op ‘n ysige Vrydagaand soek ek troos in my boekrak. En so ontdek ek Chocolat deur Joanne Harris. Voor in die boek staan die prys in potlood: R20. Jip, ‘n paar jaar gelede het ek dit by ‘n stalletjie buite Cavendish in Kaapstad raakgeloop. Of was dit Houtbaai? Hatfield in Pretoria? Dalk Swellendam? Ek het geen idee hoe hoog Chocolat op Die Letterkunde se ranglys is nie, maar destyds het ek die fliek met beeldskone Juliette Binoche, Johnny Depp en Judi Dench heel verwarmend gevind. Die vyf Oscars nominasies was welverdiend.
Klim terug in die bed, arm onder die kop gevou en begin lees. Toe my oudste kind ‘n jaar oud was, het ons vir drie weke getoer deur die deel van Frankryk waar die storie afspeel. Nou onthou ek weer oondwarm amandel-en-sjokolade-croissants vir ontbyt. Slapende huise die kleur van kaas. Mense wat straataf stap met vars fluitbrode onder die arm en “bonjour!” roep met vorentoe monde. Ek onthou weer die kersierooi leerstewels wat ek iewers in ‘n agterstraat aangepas het. En hoe ek my baba elke aand in die wasbak van ‘n ander stappershut gebad het.
Twee uur die Saterdagoggend skakel ek my bedlampie af. As ‘n gelukkige einde nie ‘n literêre doodsonde is nie, is Chocolat inderdaad ‘n uiters sjarmante storie. Verleidelik. Speels. Ek bêre die boek, smelt 300g donker sjokolade op die stoofplaat, roer room, likeur, wakkerskrikkoffie en vanieljegeurse by en nooi die bure vir ‘n anderwêreldse sjokoladekoek. Gestewel en geserp kuier ons op die stoep. My seuns voer koekkrummels vir die mossies en ‘n geel blaar val op my mooi man se krulkop. Ons luister na die bure se stories en praat oor dansklasse en demokrasie, oor ons grootwordjare en die prys van pere. Ons giggel oor die grootste twak, raak driftig en skink nog koffie terwyl ons ons sjokolade vingers skaamteloos aflek.
Só het warmte op ‘n doodgewone
wintersnaweek gebeur.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube