<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Van balvang en boggerol..

 
News : 25 Apr 2014 184 Viewed By Carina Stander 0

Die eerste keer toe ons by Laerskool Ellisras moes hekkies hardloop, was ek vrekbang – sê nou my been ruk uit lit en bly net so stokstyf in die lug? Mens sal mos soos ‘n foksterriër lyk...
“Toe, laat jy spring,” het die meneer van die kantlyn af gepor.
Ek het volspoed gehol, beangs my asem ingetrek en... die eerste hekkie geskop dat dit doer trek! So ook die tweede en die derde hekkie, regdeur tot by die laaste. Toe het ek, ten aanskoue van my stomverbaasde onderwysers, die hekkies weer gaan regop sit en woordeloos van die veld af gestap. Sela.
Kort daarna was dit netbal. “Vandag sál jy die bal raakvang!” het die groter-as-
lewensgroot juffrou gebulder terwyl sy op ‘n kort afstand my met die bal gemoker het. Oor en oor en oor, tot my vingers bloedrooi en stokstyf was.
Waarom kon ek nie die verdekselse bal vang of oor die hekkies vlieg nie? Was ek sommer net aspris? Astrant? Aikôna. Ná 30 jaar kry ek verlede week uiteindelik ‘n diagnose: my propriosepsie, die wisselwerking tussen die brein en spierstelsel wat inligting aan mekaar oorgedra, het stadig ontwikkel. Só verduidelik die arbeidsterapeut, want sien, onse slim sesjarige seunskind sit met dieselfde kwaal as sy ma. Maar omdat ons dit vroeg genoeg agterkom, kan ons dit met speletjies regstel. En speel, speel ons alte lekker aan die wonderlike rits speletjies wat die arbeidsterapeut vir ons uitgewerk het. Lekker, kreatiewe speletjies wat kern spiere versterk. ‘n Halfuur elke dag vang ons hele gesin saam sagte boontjiesakkies, verf tegelykertyd met twee hande, speel blindemol en maak beurte om mekaar aan die voete vas te hou en soos kruiwaens rond te stoot. Pret, al die pad.
Met my wankelmoedige buiging op die sportveld, is dit seker g’n wonder dat ek tot vandag toe geen sport meisie is nie. Ek besit nie tekkies nie en vind “sweetpak” die grillerigste woord in Afrikaans. Maar ek is ‘n sterk stapper. Gee my ‘n vyf dag staproete oor die Andesgebergtes of Amatola, Magoebaskloof, die Drakensberg, Yosemite, die Alpe of die Pyrénées, die Skotse Hoogland of Tsitsikammaberge, bo-oor Tafelberg en die Waterberge, dan skitter ek.
Stap is darem soveel lekker as gim, dink ek altyd. Die gim se testosteroon dampe (spiere word in spieël bewonder) en die klipdom klank (Wanna show ya my bedroom, wanna show ya my bedroom.) Daai vibe en hipe van ‘n gim gee my ‘n kramp – of so het ek gedink, tot ek anderdag uit nuuskierigheid gaan inloer het.
Ons plaaslike gim se vensters kyk uit oor see en berg. Die mure is in interessante kleure geverf. Middernagblou. Stofgeel. Daar is nie net spiertiere nie, maar ook ‘n ouma met ‘n heupvervanging, ‘n maer man met sy vet varkhond, surfer dudes en ‘n vrou wat ‘n finansiële tydskrif lees terwyl sy sweet. Meestal word daar glo gedoef-doef, maar soms speel die gim ook “sielsmusiek” soos Adiemus, Nirvana en selfs The Piano.
Aangenaam verras wonder ek nou hoeveel ander selfverbode plekke ek nog gaan betree.
Jitte, ek’s sommer lus vir ou Loftus! Of touspring! Of om ‘n fliek te kyk oor iets waarvan ek boggerol weet, soos breiwerk, biseps en balvang, natuurlik.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube