<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Die wind van voor en voor die wind!

 
Pa Sarel en ma Truiki in die Mogolrivier wat deur hulle plaas vloei. Die kiekie is geneem op Nuwejaarsdag 2005, presies 'n jaar nadat ek die visioen van pa se kanker gehad het. As pastroudes in die sestigerjare, het hulle in die einste rivier gebad; ook later jare wanneer die boorgat by die huis in droogtetye opdroog. Eerder vloede as droogtes, seg pa Sarel.
News : 28 Mar 2014 278 Viewed By Carina Stander 0

In hierdie dae van water en weerloosheid, dink ek aan Pa Sarel en Ma Truiki se sterk oorlewingsinstink. Verhale van wroegings en wonderwerke word sommerso aan hulle kombuistafel vertel. Onopgesmuk. Alledaags. Want soms gaan dit voor die wind, maar soms kry mens die wind van voor...
Tien jaar gelede, op Nuwejaarsoggend 2004, bid ek alleen in my kamer toe ek skielik ‘n helder visioen van my pa in ‘n rolstoel sien. In my geestesoog gewaar ek ‘n kankergewas in sy liggaam. ‘n Toneel van aftakeling én genesing speel voor my af. “Verbeel ek my, Here?” huil ek. God lei my na Esegiël 33:33. Hy bevestig dat dit wat ek sopas gesien het, sal gebeur.
Dié waarskuwing het hoogs onwaarskynlik gelyk - Pa was immers ‘n gesonde, sterk vrugteboer - maar ek en my ouers het saam gebid en skaars ses weke later is hy met kanker gediagnoseer. Die gewas was so groot soos sy vuis. Ná twee gevaarlike operasies het hy 25kg verloor. Mense het gevra dat ek opvlieg om afskeid te neem. Ma het gehuil: “Pa is in ‘n rolstoel. Vertel weer wat die Here vir jou gewys het, want dit voel of ek hom vir altyd verloor...”
Dit was nie Pa se tyd om te sterf nie. Tydens die vyf maande in Pretoria Aka-demies, vat hy hande met kankerpasiënte. “Ek is nie net hier om gesond te word nie, ek is hier om ander te genees”, sê hy en gesels met sterwendes oor ‘n Hoop wat verder strek as dié lewe. ‘n Vriend gaan kuier en SMS vanuit die vuilerige ou
staatshospitaal: “Lekker om ‘n bear-hug te kry wat my in die lug optel asof ek sewe jaar oud is. Jou pa is ‘n kers in ‘n kelder.” Intussen boer my skrander, moedige ma en haar vriendin vir maande alleen. Saans kuier hulle voor die kaggel, maak grappies. In die nagte tref die skok haar, dan huil Ma in haar kussing... Maar bedags oor die foon vertel sy weer van die skaaplammers en van sy en my pa wat naweke skaapogies vir mekaar maak wanneer hy op die plaas kom uitrus na nóg ‘n week van chemo of bestraling.
My hart was rougeskaaf. Ek kon bars van trots oor die durf van my ma en die sagte krag van my pa. Vandag, tien jaar later, is hy steeds vry van kanker. Hy seg graag die dokter het sy ouderdom ook uitgesny. Op 77 boer hulle steeds skouer aan skouer.
Nou, met die vloede, kon ek ‘n maand lank nie kontak met my ouers maak nie. Hulle was sonder landlyn en selfoonontvangs, die burgerradio het nie gewerk nie, die
elektrisiteit was vir dae af. Die grondpad dorp toe lyk soos ‘n slagveld. My broer Jaco en sy seuns het met ‘n boot probeer deurgaan, maar die Mogolrivier was ‘n ruk lank te gevaarlik. Tweehonderd gesinne was vasgekeer op die plase. ‘n Helikopter het soms noodvoorraad geneem – medikasie en gasstofies. Wat ‘n troos vir my hier in die verre Kaap dat hulle dierbare buurman, oom Neels, gereeld by hulle gaan inloer en sy vrou, die liewe tannie Magda verslag doen per satellietfoon: “Carina, jou ma se bloeddruk is hoog, sy raak te maer. Jou pa het sy heup baie seergemaak toe hy een aand die plaasdam wou red. Toemaar, ons hou ‘n spesiale ogie oor hulle.” Soos tien jaar terug, toe my vriende in Pretoria namens my vir my pa in hospitaal gaan kuier het, was my ouers se bure in hierdie tyd my arms waar ek nie kon bykom nie.
Vanaand werk hulle landlyn skielik en kon ons vir die eerste keer in ‘n maand gesels. Dit was hard, erken hulle. Die magteloosheid om so afgesny te wees van alles en almal. Hulle kom nog op hulle voete... “Maar die Bosveld is nou ‘n paradys, my kind, die fonteine borrel!” Bittereinder boere, die twee. Sien altyd hoop op die horison. 
‘n Dekade gelede het ek oor my pa se kanker geskryf: “Tussen gewond en gesond is net een letter verskil.” Ook nou, met die naskok van die vloedskade, vermoed ek steeds die beweging van engele in ‘n bloeiende boord in die Bosveld.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube