<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

As iemand jou raaksien...

 
News : 31 Jan 2014 651 Viewed 0

In 1982 was ek 'n graad eentjie by Laerskool Ellisras in 'n skoolrok so groen soos murgpampoen. (Iemand het seker gereken op dié manier kry kinders darem elke dag 'n bietjie groente in.)
Ek was nie juis gelukkig op laerskool nie. Daar was te veel goeters wat ek nie kon regkry nie, soos balvang en popspeel. Daar was te min elmboogspasie vir dit wat ek wel kon regkry, soos kuns en stories maak. Maar in standerd vier (graad ses) het 'n engel tot my redding gekom. Binne die eerste maand had meneer Renier Ströh 'n bynaam vir elke kind in sy Afrikaanse klas. Nie 'n spotnaam nie - 'n troetelnaam. 'n Naam wat raaksien, raakvat. Hy het my Professor Verstrooid genoem, of sommer net Proffie.
In twee jaar het ons hom nooit hoor skree nie. Ek kan nie dink dat hy ooit iemand pakslae gegee het nie. Sy woorde was min. Ons het na hom geluister soos mens ná droogte in die Bosveld luister na die reën.
Een Vrydag het daar iets gebeur wat my lewenslank sou bybly. Ons moes 'n opstel skryf. Ek het agter in die klas gesit en by die venster uitgekyk. Die vyeboom langs die skoolsaal het oranjerooi getros. Meneer Ströh het langs my tafel gehurk sodat hy my in die oë kon kyk en sag gevra: "Proffie, vertel vir Meneer, waar is my kind vandag?"
Die wete het soos 'n klip uit 'n kettie op my afgeskiet: hy verstaan! En skielik wou ek lag en huil, huil en lag. Toe deel ek my droom met hom: "Meneer, ek dink sommer... hoe word mens 'n skrywer?”
"Proffie,” het hy gefluister, “jy is klaar 'n skrywer.”
Meneer Ströh het my gehelp. Hy het vir my ekstra Stelwerkhuiswerk gegee en goeie leesboeke geleen. Hy het die stories wat ek in my vrye tyd geskryf het, in sy vrye tyd gemerk. In 'n tyd toe ek dit verskriklik nodig gehad het, het hy in my geglo.
Vandeesmaand het ek en my man, Gerrit, onse eerste graad eentjie by die skool afgelaai. Grys kortbroek. (Het skool-broekmodes in dertig jaar dan niks ver-ander nie..?) Die wit kraaghempie kraakvars gestryk. ('n Dierbare weduwee op die dorp het die skoolembleem vasgewerk, want as dit by naaldwerk kom, weet hier-die mamma se linkerhand nie wat haar regterhand doen nie!) Tas op die rug stap ons seunskind Aden ewe opgewonde aan. Met skoene so blink, as hy breed genoeg glimlag kan hy sy melktande tel. Hare geknip, toonnaels geknip, vingernaels geknip. Bid ek stilletjies: Asseblieftog, laat die kind se entoesiasme nooit geknip word nie. En sy wakker verbeelding ¨Asseblief, asseblief, hou dit vry. Stuur vir hom 'n meneer Ströh. Iemand wat raak-sien. Iemand wat in hom glo.
Net gister vra 'n vrou vir Aden: “Is jou juffrou kwaai?”
“Neewat, sy's niks kwaai nie. Haar stem klink maar net partykeer soos 'n cracker”, antwoord hy doodluiters. Toe, nadat hy 'n rukkie nagedink het, voeg hy by: "Ek lewer my bes af by die skool. As Juffrou vra, 'Teken 'n prentjie', dan lewer ek my bes af. Ek dink nie te hard nie. Ek dink nie te sag nie. Ek sal maar net aanhou om my bes af te lewer." - Carina Stander

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube