Is daar hoop vir Mokopane se sypaadjies?

 

Date:05 March 2012

Die Mokopane Sakekamer het Noordelike Nuus verlede week weer genooi om saam met die president, Andy Goetsch, verskeie areas van kommer in die Mogalakwena munisipale area besoek.
Goetsh het veral probleme op sypaadjies uitgewys. Die sakekamer is steeds bekom-merd oor smouse wat onwettig handel dryf op sypaadjies in die sakegebied, die baie stukkende stormwater dreineringsgate wat stukkend en oop is, gras en onkruid wat oral in die dorp deur plaveisel op sypaadjies groei en die algehele swak toestand van plaveisels en randstene op sypaadjies.
“Wat moet mense van ons dorp dink as hulle hier ingery kom en die gras en bossies staan heuphoogte op ons sypaadjies?” wou Goetsch weet. Hy het weereens daarop gewys dat die smouse wat toegelaat word om ongehinderd op sypaadjies besigheid te doen, wettige besighede skade doen.
Maar munisipale bestuurder, William Kekana, sê hy is net so gefrustreerd soos die sakekamer met die situasie. “Ons het ongelukkig raadslede wat die smouse se belange, ten spyte van die wet, op die hart dra,” het hy verduidelik.

Onsekerheid
Kekana is self nie aldag sy toekoms by die Mogalakwena munisipaliteit seker nie. Tydens ‘n raadsverkiesing Woensdagmiddag is ‘n mosie vir sy afdanking met 30 stemme teenoor 29 afgeweer.
Kekana het vroeër die week aan Noordelike Nuus gesê die burgemeester, Esther Mothibi, wil van hom ontslae raak omdat hy daarop aandring dat Henry Thobejane, die omstrede hoof van korporatiewe dienste afgedank word. Thobejane is skuldig bevind op 26 klagte wat wissel van diefstal tot oneerlikheid in die werksplek, maar is na sy skorsing weer in diens geneem na nuutgekose raadslede kort na die munisipale verkiesing daarop aangedring het.
Oor die toestand van sypaadjies in die dorp sê Kekana die munisipaliteit neem kennis van die sakekamer se besware. Hy meen die enigste oplossing vir die probleem met die smouse is ‘n markgebied naby die taxi-halte waar smouse in ‘n beheerde omgewing met sanitêre geriewe tot hul beskikking kan handel dryf. “Ons streef daartoe,” het hy gesê.
Intussen wys die sakekamer daarop dat die munisipaliteit inkomste verloor oor geboue wat leegstaan en nie verhuur kan word nie omdat smouse die sypaadjies beset. Kekana sê hy hoop om die raad die lig in die verband te laat sien. Hy het daarop gewys dat daar wel positiewe dinge by die munisipaliteit aan die gebeur is.
“Ons het sedert die Noordelike Nuus in Januarie op die toestand van parke berig het, 27 nuwe munisipale werkers aangestel wat gaan help met die opruiming en instandhoudingswerk van die parke en tegniese dienste,” sê Kekana. “Ons het ook met geld wat ons van die Loteryraad gekry het twee nuwe trekkers gekoop wat sal help met die sny van gras. Ons bestaande vloot dateer uit die sestiger jare.”

by: Jasper Raats

Read:

187

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

Style 2